Bekering in sak en as op Jatniël. Uittreksel uit my boek "Daar’s `n gay pastoor in my kop".

Ek gun geen mens om te wroeg soos wat ek gewroeg
het sonder om by `n slotsom uit te kom nie. Die gesoek na antwoorde het my
eindeloos laat tol en in `n emosionele maalkolk vasgedraai. Ek het my gedaan
gestoei met die vraag of ek werklik gay is. Of ek deur die Here geroep kan wees.
Ek het gewonder of ek ooit in my lewe vir myself respek gaan kry. En niemand
het `n benul gehad van my vraagstukke nie. Die antwoord was so duidelik met ‘n hoofletter
“H” gespel. Homoseksueel. Maar ek het heeltyd gehoop dat mens iemand soos ek
ook “Straight” kan noem.

Ek beny mense wat jonk-jonk reeds al gemaklik met
hulle oriëntasie is. Party stap op twintig al ‘n eerlike pad en lieg vir
niemand nie. Ek moes oor die hoë hekkie van my oortuiging dat gay wees
duiwelsgeïnspireerd is spring. Dat dit van demone se teenwoordigheid getuig.
Daar was ook my vrees om deur my familie, my vriende, my gemeente en God self
verwerp te word. Dit was juis die behoefte om reg te leef wat my as jong man
daarvan weerhou het om in waarheid te leef. Toe ek daar in Riebeeckstad begin
vermoed het dat ek die groot “H”-woord sal moet aanvaar, was my hart aan my
vrou en dogter s’n vasgemaak en was ek `n gesiene persoon op my dorp.

Die jaar 1992 was `n jaar vol drama. Ons het weer
vir berading gegaan. Elke sielkundige het sy persoonlike teorie soos ‘n tou uit
‘n helikopter na my uitgegooi en my aangemoedig om op lewe en dood daaraan te
klou. Elkeen het gedink hy weet presies hoekom ek gay behoeftes het, en ek het
nie net één storie nie maar álmal geglo.

Dit was `n weeklikse ritueel. Opstaan, bad, aantrek
en hoopvol in die rigting van die spreekkamertjie ry. `n Uur lank mag jy grawe
en praat in die hoop om op die goue sleutel af te kom. Net om daarna platgeslaan
in Talk of the Town te gaan sit met `n vrou wat haar kos net-net gesluk kan kry.
Haar oë is rooi gehuil. Die aanklag teen my as man en pastoor was in die
maskaraspore oor haar wange geskryf. My vrou het eenkeer vir die berader vertel
dat sy nie eens in my arms veilig voel nie; sy wonder wat ek van haar figuur
dink terwyl ek haar omhels. Ek het walglik siek gevoel. Ek was `n emosionele
mishandelaar wat my vrou met my onvergenoegdheid beledig het.

Geen faset van my lewe het rustig verloop nie. Die
gemeente was verdeeld. Sommige het genot geput uit die intense wyse waarop ons
sing, ander het die gemeente daaroor verlaat. Ek is aangesê om my hare te laat
sny, dit het die hoofouderling gegrief dat dit oor my kraag begin groei. In my
onredelikheid word ek kwaad vir almal wat my kritiseer, omdat ek weet dat daar
baie meer met my skort as wat hulle aan my klerestyl kan sien.

Ek het in twee wêrelde geleef: die gemoedelike
vriend van almal wat van my hou en die verwaande pastoor van almal wat my nie
aanvaar het nie. Ek het begin om Welkom te verfoei en het al hoe meer verlang
na `n groot stad. ‘n Plek waar ek kon inskakeer. Melville en Hillbrow het my
kuierplekke geword. Plekke van ontvlugting en asemskep. Ek het eendag op die
sypaadjies van Hillbrow gehuppelstap terwyl geluksaligheid en ‘n gevoel van
vryheid koel deur my kop waai. Toe ek by `n straatsmous ”eclair”-toffies koop,
het ek gewens ek hoef nooit terug te gaan Welkom toe nie.

 In Augustus
1992 kuier ek in Johannesburg. Ek is vasbeslote om die gay teistering `n hou oor
die kop toe te dien wat hom vir ewig sou knou. Ek het in Alberton tuisgegaan, by
Juan Lombard, `n vriend en gewese gemeentelid van Bapsfontein, en op die eerste
dag van my besoek in die rigting van Benoni gery. Jatniël toe. Blourokke toe.
Spadereëns. Ek het `n groot ontsag vir hierdie mense se toewyding. Ek is
vriendelik ingenooi. ‘n Meisie het iemand gaan soek wat vir my kon bid. Ek het ‘n
lang ruk daar gesit en sag in my gedagtes gebid dat die Here vir my die
deurbraak moes gee. Ek wou die hele tyd huil. Toe verskyn ‘n skraal ou oom met
silwer hare en die mooiste gesig in die deur. Hy het op ‘n stoel naby my gaan
sit en gevra wat hy vir my kan
doen. Ek het hom vertel van my vrees dat ek dalk gay kan wees en hoe graag ek
van die stryd ontslae wou raak. Hy het sonder omhaal van woorde gesê dat die
Here my baie lief het. Die oom het onophoudelik, maar rustig, bly praat. Hy het
lank met my gepraat. Ek was bewus van die Here se teenwoordigheid in die
vertrek. Sy stem en sy oë was sag. Ek het elke woord ingedrink. Sy woorde het
hoop in my laat opstaan soos ‘n klein hondjie wat lank alleen in sy baas se
huis toegesluit was en nou die sleutel in die deur hoor draai. Ek was hoopvol,
maar rustig. Soos klei in die hande van hierdie pragtige ou man wat belowe het
dat die Here my nooit in die steek sal laat nie en dat die dag van my bevryding
aangebreek het. Hy het my deurgaans “Pastoor Liebenberg” genoem. Hierdie man
het my gerespekteer vir die roeping van die Here in my lewe ten spyte daarvan
dat ek hom pas in my duister kop laat inkyk het! Ek was aangetrokke tot die God
wat hy verteenwoordig het. Tot die Gees wat in daardie geloofshuis op Jatniël
was. Dit was die mees terapeutiese paar uur wat ek in my lewe beleef het. Toe
gaan roep die oom sy vrou.  

Hulle het my na `n vertrek geneem waar hulle in
privaatheid vir my kon bid.
Ek is
aangesê om op my maag op ‘n goiingsak te gaan lê. Hulle het as oor my gestrooi.
Ek het geweet van die gebruik en dat dit ‘n ritueel is wat uitdrukking gee aan
die Bybelse beskrywing van ‘n egte bekering. Bekering in sak en as beteken dat
jy laag voor die Here neerbuig. Dat jy van jou hoogmoed, sonde en eiewaan
wegdraai om God se wil en weg te soek. Ek was vir die hoeveelste maal gereed om
my alles op daardie altaar neer te lê en die Here met my hele wese te dien. Ek
was moeg en kwaad vir die duiwel wat my lewe van my steel. Om
my ore het ‘n dreuning losgebars wat die vredevolle stilte verbreek het. Ek was
nie gesteur nie. Dit was die toonbeeld van geestelike krag, ek het sélf baie so
gebid. ‘n Legioen bose geeste is by die naam genoem. Die oom en tannie het al
in die rondte om my geloop en die geeste beveel om my te verlaat. My hele
liggaam het op daardie sak inmekaargetrek van die intensiteit van my gehuil en
gepleit dat God my moet verlos. Ek het op die Satan geskreeu dat hy my moet
verlaat. Dit het vir lank aangegaan en toe ek uiteindelik opstaan, was ek
rustig, gelate en doodmoeg. Ek het in ‘n waas na my motor toe gestap. Toe ek
die oom wil groet, ontdek ek dat hy nog nie klaar gebid het nie. Hy het om my
motor begin stap en die bloed van Jesus daaroor gepleit. In fynste besonderhede
het hy vir elke onderdeel gebid. Ek kon nie help om ten spyte van my uitputting
te glimlag vir hierdie oom se kinderlikheid nie. “Here, die bande, ons pleit
die bloed oor hierdie motorbande sodat hulle veilig op die pad sal bly. En die
enjin …” Ek het daardie oom en sy God met my hele hart liefgekry.

Op pad terug het ek onophoudelik gebid. Ek het
dankie gesê vir die gevoel van ligtheid. En dat die duiwel se houvas op my
verbreek is. Ek het weer eens besluit om die beste man en pa in die hele wêreld
te wees. Die besluit om ‘n goeie pa te wees is verseël met `n konkrete simbool: Ek
het vir my dogtertjie `n Maltese hondjie gaan koop. Haar oupa Steve het van die
begin af gesê dat dit goed is vir `n kind om met `n diertjie groot te word, want
dit leer hulle om iets te versorg en daarvoor verantwoordelikheid te neem, maar
ek en Louise wou nooit bes gee nie want `n perfek netjiese huis, vry van
hondehare, was vir ons belangriker as enigiets wat Annique uit die omgang met `n
klein diertjie kon leer. Nou was ek vasbelote om daardie diertjie te koop.

Toe ek ná drie dae my pad terug vind Welkom toe,
was dit met `n lied in die hart en `n volgehoue belydenis dat ek heteroseksueel is.
Ek was vry om die man te wees wat God geskep het die dag toe ek verwek is. Ek
het glad nie geweet dat die gay man in my op die vooraand van `n harde terugkomslag
aarde toe gestaan het nie. “I am what I am” was vir my net `n liedjie. Een wat
van Gloria Gaynor se egosentriese lewensbeskouïng getuig.



Możliwość komentowania jest wyłączona.