DEUR ‘N ANDER MAN SE BRIL

 

As gevolg van die oogoperasies wat ek die jongste tyd gehad het en wat weer gedurende September hervat sal word, kan ek, met behulp van ‘n kontaklens in die linkeroog, redelik goed ver sien. Maar naby het ek ‘n leesbril nodig. En dit is nou ‘n probleem. Dit gebeur sommer dikwels deur die dag dat ek gou iets wil lees, en dan ontdek dat ek nie my leesbril naby my het nie. Dan is daar die verdere probleem dat die ouman vergeet het waar hy dit laas gebruik het of neergesit het. As ek uiteindelik die leesbril kry, dan het ek al weer vergeet wat ek daarmee wou maak. Om hierdie noodsaaklike stukkie apparaat met ‘n lyntjie om my nek te dra, is vir my nie stylvol nie. Maar mettertyd sal ek seker daaraan gewoond raak. Ek het gelukkig in die motorhuis ‘n ou leesbril van my ontdek sodat ek nou twee het. Die een lê nou by die rekenaar en die ander een in die kombuis waar ek soggens die koerant lees. Maar as ek dorp toe gaan, dan vergeet ek om een saam te vat. Ek reken dat ek maar nog een moet koop om in my sakkie waarin my beursie en allerhande ander dokumente is, te plaas.

 

Dit laat my aan twee insidente dink. Die eerste een is van ‘n bekende minister in die vorige regering wat op ‘n keer die destydse Verteenwoordigende Kleurlingraad moes gaan toespreek. Toe hy stelling agter die kateder inneem, en so na sy baadjie se boonste sakkie vat-vat, ontdek hy dat sy leesbril nie daar is nie. Konsternasie. Want daarsonder kan hy niks sien wat geskryf is nie. Maar, as ek reg onthou, het die voorsitter van die Raad opgestaan en sy bril vir die agbare minister aangebied. Dit het gehelp dat die minister sy toespraak kon lewer. Na die toespraak gee hy dit toe aan die eienaar terug. Maar die voorsitter was nie op sy bek geval nie. Hy sê toe: Ek is darem bly dat die Minister vandag deur die oë van ‘n Kleurling sy toespraak kon lewer.

 

Die ander insident was toe ek nog op Wellington gewoon het. Destyds het ek kontaklense gedra en was ‘n leesbril noodsaaklik. Ek moes die betrokke Sondagoggend in die Strooidakkerk in die Paarl preek. Toe ek op die preekstoel staan, en die eerste Psalm aankondig, besef ek met ‘n skok dat ek my leesbril nie saamgebring het nie. Ek wou net paniekerig raak, toe ek gelukkig vir wyle ds. Skuts Marais sien. Hy was toe al afgetree en ek het dikwels saam met hom gholf gespeel. Ek vra toe maar vir hom of ek sy leesbril mag leen wat hy dadelik vir my gebring het. Daarmee het hy my uit ‘n erge penarie gered. Alles het vlot verloop en na die diens het ek sy bril aan hom terug besorg.

 

Die volgende Sondagoggend, redelik vroeg, lui die telefoon. Dit was sy seun, Johann, wat my skakel met die nuus dat sy pa, ds. Skuts, oorlede is.

Możliwość komentowania jest wyłączona.