Saudi – Arabia was nie so groot kultuurskok soos ek verwag het nie. In ‘n mate was ek voorbereid. Moet my nie verkeerd verstaan nie: as die term 4e wereld-land sou bestaan, dan het ek dit aan hierdie woestynland toegeken. Baie van die gru stories en waarskuwings wat ek op forums en webtsites raak gelees het is inderdaad waar, maar die aanpassing was aansienlik makliker as wat ek voorspel het.
Ek het die 17e Augustus om 4:00 vm hier aangeland. My senuwees het begin knaag toe ek gewag het vir die aansluitingsvlug vanaf Abu Dhabi. So tussen al die Saudi’s met hul tradisionele drag: abbayas vir die vroue en thobes vir die mans. En al wat deur my kop gegaan het was: moenie vir die vroue kyk nie, moenie vir die vroue kyk nie!!! Met my aankoms op Riyadh lughawe het ‘n nuwe paranoia in my kop kom nes maak: se nou net iemand het drugs in my bagasie versteek? Is ek seker daar is geen pirates op my laptop nie? Gaan hulle die boeke met ‘God’ in die title konfeskeer? Gee ek enigsins aanstoot met my kleredrag (‘n denim en trui)? O ja, moenie vir die vroue kyk nie!! Het ek erens iets mis gelees by do’s and don’t’s voor ek gekom het? Is daar vark of alkohol in my bagasie? Mag ek ooit rook in hierdie land? Kyk af, daar is ‘n vrou voor jou…
My eerste gewaarwordinge van Riyadh:
Dis warm ja! Baie warm! Maar nie rerig humid nie. Ek kan werk met droe hitte. Die gemiddelde temperatuur is 45 grade Celsius.
Daar is net twee wolkekrabbers in die ganse stad: Al Mamlakah (Kingdom) Tower en Al Faisaliah. Besonderse argitektuur.
Verkeersreels is ‘n mite.
Daar bestaan nie iets soos voetoorgange nie. Niemand loop regtig nie.
Elke tweede winkel is of ‘n Laundromat of ‘n sjokoladewinkel of ‘n schwarma restaurant.
Daar is ontsaglik baie pakistani’s, Indiers en Bangladeshi’s. Saudi’s doen eenvoudig nie vuil werk nie.
My eerste dag by die akademie:
Ek ontmoet my kollegas. Van hulle kan nie gou genoeg vir my vertel hoe korrup die akademie is nie en dat ek my in ‘n tronk bevind. Van hulle is positief en gee my die beste raad tot op hede: go with the flow. Moenie vergeet wat jou in die eerste plek hierheen gebring het nie. Geld. Van hulle is uiters vriendelik en vertel my ek moet niks glo wat die pessimiste te se het nie – laasgenoemde sal dan ook al die Moslems wees.
Ek ontmoet die supervisor en hoor ek mag nie oor seks, vroue, geloof en politiek in die klas praat nie. En geen musiek nie. As ons ‘n luister aktiwiteit doen moet ek die volume afdraai sou daar ‘n deuntjie gespeel word ter inleiding. In die handboeke word foto’s van vroue ge-edit: met ‘n veil oor hul hare. (Stel jouself die belaglikheid voor wanneer on svoorkoms behandel en by die opskrifte van vroue met rooi of blonde hare sien jy net ‘n vrou met ‘n swart veil…)
My paspoort word ingetrek.
Ek ontmoet van die studente. Van hulle dink Suid-Afrika is net onder Egipte. Die wat wel iets weet van Suid-Afrika wil weet hoekom is ek nie swart nie. Kom my ouers van Europa af? My ouers se ouers?
Ek kry my eerste boekie oor Islam. Tientalle sou hierna volg.
Ek word ook ingelig dat ek NOOIT kontak mag maak met die Direkteur van die akademie nie. Hy is ook op die Mutawwa (Religious Police).
“Goed,” dink ek. Sommer alles op een slag. Kan seker net beter van hier af….
Ramadan was egter net ‘n week weg.
Word vervolg….