Jy was elke oggend daar, tussen my en die sonsopkoms. Jou relief, eintlik wil ek sê jou profiel, deel van die oosterkim. Hoeveel dekades dit was, weet niemand nie, maar vandag is jy nie meer daar nie. Môreoggend nog ´n reus minder.
Vandag se mensdom wil mos net eet en teel en alkohol gebruik om hul motors te laat loop en natuurlik te drink ook, amper wil ek sê suip. Dié grond raak nou heeltemal te duur vir weiding. Nee, ons wil suikerriet en soja en mielies plant om aan al hierdie magdom se behoeftes te voldoen. Daarom moet die wêreld skoon wees dat die groot masjiene ongehinderd kan loop. Geen obstruksie in die pad nie. Die sestienry planter moet die stowwe laat staan, die selfaangedrewe spuit soek nie iets in die pad van sy arms nie en ook nie die stroper nie. Geen ou boom meer op die horison nie. Kontantgewasse ja, dít moet ons produseer.
Toe die blou Mercedes rookwolke deur die hek blaas, het ek my hand met ´n swaar hart gelig vir jou en jou maters, wat daardie bak vol gelê het.
Sal jou mis as ek die sonsopkoms vorentoe gadeslaan.
Hasta la proxima.