Jy
het van jou troontjie afgeval, jy het jou bek oopgeval, tande uit en dit bloei. Dit was ek wat die troon onder jou uitgeruk het, as jy dalk gewonder het. Dit was ek wat in die eerste instansie die troon onder jou gesit het. Ek gaan nie omverskoning vra dat ek dit onder jou uitgeruk het nie. Dit was hoog tyd, ek moes dit al lankal gedoen het. Jy het in elk geval die troon geniet, jouself aangestel as Koning. Iewers het rooi ligte geflikker maar ek het dit geignoreer. Dit is my eie skuld, ek weet. Geniet jou oomblik van glorie, indien moontlik, onder omstandighede.
Jy
het al die vlae laat wapper. Jou seile gespan in die wind. Die wind van agter gekry. Jou boeg majesteus deur blou golwe geklief. Jy het soos ‘n arend gesweef, gedink jy is adel. Jy het vergeet van die nes waar jy uitgebroei het. Jy het vergeet van die hoenderhen wat jou grootgemaak het, die kuikens met wie jy gespeel het. Jy het jou hande groot gemaak en bak gehou. Jy het jou snawel gelig, en van bo na onder gekyk, daar onder, die klein volk van die aardkors. Langs jou, aan vlerkpunte geraak, die ander soos jy.
Jy
het weggekyk, jou kop gedraai om nie te sien, die val van ‘n valk. Te pletter op ‘n rotsbank het stukkies been, veer en vleis vermink gesug. ‘n laaste asemteug. Jy het nuuskierig afgedaal en pik pik, die laaste vleis van sy beendere geruk. Die geraamte is steeds daar, waar jy soos ‘n aasvoel elke kriesel opgeslurp het. Die wit beendere kan getuig. Weer sweef jy op die golwe van die wind. Vreesloos, hoog, hoog, hoog. Jou nes is die hoogste krans. Jy is koning van jou koningkryk.
Jy
was ‘n bloeisel, spierwit en rein. Jy het stadig vrug geword. Eers grasgroen en later het jy hups uitgeswel. Ronder as rond, mooi en gesond. En rooi soos lipstif-mooi geword. Die rooi appel wat so volmaak geskep is. Die rooi appel wat vir Eva en Adam verlei het. Eers het ek jou begeer, ek wou jou pluk, en eet dat die soet verruk, dat die sap spat. Toe ek aan jou vat, voel jy pap, en ek sien jy is verkleur, na bruin-swart. Vrot. Jou vrug, was vrot. En dit was waaraan ek jou kon toets. Waaraan ek alles kan toets, soos geskrywe in die goue skrif.
MENE, MENE, TEKEL, UPHARSIN….