‘n Snerpende koue wind loei om die hoeke van ‘n ou afgeleefde murasie. Binne in skuifel ‘n boemelaar rond op soek na skuiling. Hy is nuut in die omgewing en was opsoek na ‘n plekkie om sy moeë kop vir die aand neer te lê. Hy’s so bly hy het die murasie ontdek om die elememte daar buite te ontsnap.
‘n Geweldige hoesbui oorval sy tenger, koue liggaam. Hy steier vorentoe en val moeg en verwese in die hoek van die murasie neer. Soveel jare al oorleef hy op straat. Soveel jare al moet hy bedel vir aalmoesies van mense wat hom goedgunstig is. Maar die goedgunstiges raak die laaste tyd al hoe minder.
Die jare op straat het sy merk gemaak. Hy lyk baie ouer as sy 50 jaar. Dis sy 15de jaar op straat. Vroeër het hy ook ‘n huis gehad, ‘n werk, ‘n mooi kar. Maar dit alles het hy verloor. Die drankduiwel het van hom besit geneem net na sy 33ste verjaarsdag. Op daardie stadium was hy besig om te skei, sy werk het agteruitgegaan en hy het dit verloor en in ‘n kwessie van twee jaar het hy heeltemal bankrot gespeel.
So op die ouderdom van 35 was die strate sy enigste uitweg. By robote het hy gebedel vir ‘n geldjie waarmee hy die drankduiwel kon sus. Kos was minder belangrik. Dag tot dag het hy net gelewe om genoeg geld bymekaar te maak vir die drank lus. Hy’s afgetakel deur die jare se drankmisbruik. Maar tog kan hy die duiwel nie afskud nie. Hy het dae laas iets gehad om te drink en voel knorrig en aggresief daaroor. Die hoek waar hy die laaste paar maande gestaan het is nie meer so betalend nie. Die mense daar wat wel nou en dan vir hom geld gegee het, het besef dat dit nie werklik vir kos gaan nie. So hy het maar ‘n nuwe buurt kom soek om by te bedel. Hy is net bly hy het die ou murasie opgespoor. Hy kan elke aand hier kom slaap.
Die boemelaar kyk in die skemerte rond vir ietsie sags om sy kop op neer te lê. Iets trek sy oog in die ander hoek van die murasie. Stadig kruip hy hande viervoet soontoe om dit van nader te besigtig. Een van die vloer se hout planke is effens gelig in die hoek van die kamer en hy kan ‘n voorwerp daaronder sien uitsteek. Dis ‘n geroeste kissie wat duidelik ‘n paar jaar oud is. Die Boemelaar maak die kissie oop en voel stadig ‘n opgewonde warmte deur sy binneste versprei. Daar is geld in die kissie! Rolle en rolle geld!
Sy skip het uiteindelik ingekom! Nou kan hy uiteindelik van die strate af padgee en weer begin lewe. Hy kan homself by ‘n rehabilitasiesentrum inboek en vir eens en vir altyd van die verduiwelse drankduiwel ontslae raak! Die Boemelaar is so opgewonde hy kan skaars tot rus kom. Nou en dan oorweldig ‘n rukkende hoesbui hom nog wat hom na sy asem laat snak, maar dis asof dit nie meer so erg pla nie. Die snerpende koue is ook skielik meer draagsaam. More oggend begin sy nuwe lewe. More oggend gaan die son weer helder skyn. More oggend sal die koue nie meer so erg voel nie en sal hy warm klere kan gaan koop om sy gevriesde lyf warm te hou. More oggend…
Die Boemelaar se verkluimde lyk word die volgende oggend deur twee seuns ontdek wat naby die murasie bal speel en die bal per ongeluk in die huis inskop. In sy hande lê die kissie met die rolle geld in. Soos die Engelsman sou sê “Too little, too late”
Die lewe is soms so onregverdig…