Sjoe ek was lank laas hier! Dit gaan seker maar net besig! Ek is nogsteeds op my wolkie nommer 9!
Ek het vandag so gestap oppad personeelkamer toe, toe ek verby een van my kollegas stap. Sy is een van daardie mense wat altyd die ekstra stukkie loop, wat altyd help waar sy kan, sonder dat dit van haar verwag word, wat sommer net ‘n lekker koek of ‘n tert sal bak en skool toe bring, sonder dat daar enige okasie (Spelling) is. Sy sal ietsie in jou vakkie los vir sommer net. Sy sal haar suster se kind help leer, net omdat niemand anders sal nie, die ekstra stukkie loop sy altyd. Een van my ander kollegas stap toe verby haar en sê vir haar hoe pragtig sy vandag lyk. Mooi in die kleur van lente getooi! En vir daardie klein oomblik het sy skielik ‘n blos op haar wange gekry, gelyk asof daardie gevoel van ek beteken ook iets vir ander, mense sien my ook raak, haar hele dag die moeite werd gemaak het. Ek dink toe, behalwe dat dit baie swak is dat ons nie meer vir mense sê ons waardeer hulle nie, moet ons oë, my oë net weer oopgaan en besef dat net ‘n ‘hoe gaan dit regtig, ‘n dankie, ‘n jy lyk pragtig vandag of net ‘n glimlag vir ander mense die lewe en dae meer draaglik kan maak! Dit vat nie eers regtig moeite of tyd nie!
Almal soek hulle stukkie son… Almal het hulle stukkie son nodig! Son laat ons groei! ……