Langs die pad staan ‘n swart vrou. Sy bedel. Sy vra oorlewing vir haar en haar kleuterkind. Elke dag in die warm son op die warm teerpad. Party dae gee ek iets ander dae knik ek net. Ander dae kyk ek ander pad en dink waar kom jy vandaan vrou met die kleuterkind. My gedagtes maal dan vir ‘n paar kilometers om en om, om die ma met die kleuterkind. Anderdag wag ek by die verkeerslig en die toneel speel hom voor my af. Twee mammas plat op hul boude op die harde grond langs die afrit van die snelweg. Opgewonde grawe hul die een na die ander kledingstuk uit ‘n groot plastieksak. Die kledingstukke word in die lug opgehou en bestudeer. Die een kleuterkind staan nefens haar ma en hou aan haar skouer vas om haar balans te hou. Aan haar twee klein kleutervoetjies is pikswart blinkleer hoehakskoene. Oor haar gesiggie dans ‘n glimlag van lekkerkry. Ek wonder, het haar ma ooit al sulke skoene besit? Of is dit ‘n ingebore dogtertjie instink? Trane dam in my hart op……..
Op die warmste dag nog ooit in Oktober ry ek deur Sunnyside. Veraf hoor ek die klank van kinders wat gil, lekkerkry gille. Op die stoep van ‘n ou huis staan ‘n vrou met ‘n tuinslang in die hand. Op die grond voor haar baljaar ‘n stuk of veertig kleutertjies met kaal bolywe in die watersproei. Wat ‘n slim plan. ‘n Wyse vrou. Dit bring ‘n glimlag oor my gesig. Die beeld sal ek nie gou vergeet……..
My seun moet ‘n kreatiewe naamplakker maak. Hy wil dit op die rekenaar doen. Dis nie kreatief nie boeta. Hy is vies vir my. Ek gee ‘n paar idees maar hy skiet dit net af. Met hang skouer drentel hy na die motorhuis. Pa kom by die huis en gaan kyk waarmee boeta besig is. Hy sit op die trappie en gesels met boeta. Nie lank nie en boeta kom al borrelende die kombuis binne. „Pappa is „ingenius”, pappa is „ingenius”!” Dit is so kosbaar. Geld kan nie tyd koop nie……….