Oom Lebo vertel deel 11

 

Maar in elk geval wil ek darem nou nog voor die vredesluiting -voordat ons verneem het van die vredesluiting dit vertel.

Daar word toe besluit dat ons Hopetown sou aanval, die dorp self. Ek was aangesê deur kommandant Pyper, SW Pyper, om die aanval te lei. En dit sou die môre – ek dink dit was so twee dae voor vredesluiting -net een dag voor die vredesluiting.

Ek sou die aanval lei die môre, so kort voor dagbreek.   Maar daardie nag word ek ongelukkig ernstig siek. Ek het ‘n vreeslike maagaandoening gekry, so dat ek vir die kommandant moes laat weet ek kan nie aanval nie, ek kan nie die aanval lei nie, ek is te siek.

Snaaks genoeg, toe las hy dit af. Ek het gemeen hy sou ‘n ander man aanstel om dit te doen. Daar was ander offisiere genoeg, maar toe las hy dit af en dit was ook miskien maar gelukkig, want soos ek sê, dit was maar een of twee dae voor vredesluiting en daar sou toe maar seker bloed geloop het as ons moes aangeval het.  

So ‘n paar dae daarna toe kom die Engelse – stuur hulle ‘n offisier uit na ons toe, onder ‘n wit vlag en hy kom vertel vir ons dit is vrede. Hulle het vrede gesluit in Pretoria. Ons kon natuurlik dit nie van hom aanneem nie.

Ons kon ook nie vir hom sê, „Nee, jy lieg nie.” Maar ons sê toe vir hom wel, ons kan dit nou nie van hom aanvaar nie, maar ons is gewillig vir ‘n wapenstilstand tot tyd en wyl van ons eie mense, offisiere wat daar gewees het, vir ons laat weet.

Ons het toe daar vir ‘n week of twee miskien maar rond getrek en rond gelê, voëls geskiet op die panne. Daar is baie panne in daardie wêreld met watervoëls, nou skiet ons maar watervoëls want ons het niks anders te doen nie. Toe kom generaal Smuts self daar aan in eie persoon en hy vertel ons toe van die vredesluiting ensovoorts.

 

Ek het vantevore met generaal Smuts geredeneer oor ons Kaapse Rebelle, „Wat word van ons as julle eendag moet vrede maak?”

Toe het hy vir my gesê, „Ons sal ons uiterste bes doen vir julle.” Dit was al wat hy kon sê. Toe sê hy vir ons hulle het vir ons amnestie gekry, ‘n beperkte amnestie.

Ons sou net ons stemreg verloor vir vyf jaar ensovoorts, maar dit is net vir mens wat nie on-oorlogse dade gepleeg het nie, mense wat ander mense onnodig doodgeskiet het ensovoorts nie.   Hulle moes maar hul verantwoording doen.

Daar is toe ook baie van die offisiere wat daar in die omtrek gewees het, ander kommandante ensovoorts, onder andere wat ek nou kan onthou was Manie Maritz en kommandant Stoffel Botha, Van Reenen en dies, hulle was ‘n bietjie bang want daar sou sake teen hulle wees.

Hulle sit toe af Suidwes toe, Duits-Wes-Afrika, soos ons dit destyds genoem het. Hulle is toe ook daar – die Duitsers het hulle net ontwapen en toe kon hulle daar bly. Natuurlik hulle het toe verder gegaan. Party het tot in Europa gegaan.   

 

Możliwość komentowania jest wyłączona.