Wie het ‘n goeie boek of drie om aan te beveel? Ek het nuwe leesstof nodig! En as ek dit iewers tussen vandag en môre kan aanskaf, dan is ons op die regte spoor. So van spoor gepraat, die familie het gaan jag!
Saterdagoggend is ek (as ‘n effense gevalle soldaat) in die bakkie gelaai Badseloop toe. Dis iewers tussen Naboomspruit, Nylstroom en Modimolle. Ek vermoed Naboomspruit of Nylstroom IS deesdae Modimolle, maar moenie daaroor bekommer nie. Ek is seker jy kan meer interessante dinge as dit google.
By die Wimpy op pad het ek al gelag. Daar is klein kindertjies in sweetpakke wat hulle van die boetie of sussie ge-erf het (jy sien dit aan die te kort broekspype) wat op ‘n streep wil toast broodjies hê en met vuil voete in die lang ry op en af spring. Dan is daar ooms in bakkies in hull jaguitrustings want die seisoen het mos nou aangebreek. Jy weet sommer iewers skuil daar lewensgroot stukke rump en coolers met bier. Die tannies laat die kleintjies piepies en ‘n paar het die oumas en oupas ook ingelaai. Die smiles was nog groot want min het besef dit gaan die hele liewe naweek reën. Nou kyk, ek het nie kinders nie maar daar was in ons geledere ook twee kleintjies en soos die naweek langer raak in ‘n klein huisie, voel ek OF hulle begin harder praat OF die reën laat die fondasies krimp.
Niemand het eers ‘n boardgame ingepak nie. Twee sambreeltjies met klein mensies in hol op die gras en word nat. Die diere het ook gevlug. My een boetie het wel ‘n bosvark in die visier gekry en die ander een ‘n koedoe. As jy nog nie ‘n bosvark van naby gesien het nie hoef jy glad nie te dink jy moet die dieretuin daarvoor besoek nie. So outjie is besonder harig en het lelike tande. Die kussinkies van sy pote is wel sag en rubberagtig. Die slaghuis sê jy maak van so ene salami, droëwors, russians en as jy ‘n goeie skaapboud kan maak, is dié meneer se boud selfs sagter. Gelukkig kan ek nie self skaapboud maak nie so ek dink nie ek gaan ooit weet nie.
My heel eerste aktiwiteit twee tydskrif launches later, was slaap. Daarmee het ek deurlopend volhard. Ses ure om mee te begin Saterdagmiddag en verder twaalf ure elke ander aand. Daar is darem net iets veilig daarin om aan die slaap te raak as jou familie om jou gesels en om jou lag al praat jy nie saam nie! So sien ek die kamer se deur wat oopgaan, maar nie ‘n mens nie. Ek’t gou besef ek kyk te hoog. Sussie is twee en trippel saggies tot langs my bed. “Tannie Liani, is jy wakker?” Ek antwoord “amper” en sy wou weet of ek nou kan opstaan en met haar kom speel. Hoe kan jy vir so ‘n gesiggie nee sê? Ouma lees stories en iets omtrent my verleen haarself tot klimraamelemente. Dit gaan ek nie te veel ontleed nie. Daar’s ‘n kampvuur en baie grappies later is ons in die mooiste bos.
Die gewere word tog ingeskiet en ek en my skoonsussie het die quad bikes aangedurf. Myne se battery het eers gekalf en ‘n rukkie later kon ek nie mooi die draai kry nie en het reguit op ‘n boom afgery. Dit het donker geword en vinnig gebeur. Met groot oë het ek gesien niemand behalwe die dom boom is naby nie en het vinnig gereverse tot ek weer my weg tot in die klipperige grondpad gevind het. Verby ‘n dam, rooibokke en buffels was daar nog ‘n paar noue ontkomings en ek weet na dese hoekom so baie mense seerkry op en naby ‘n quad bike. Tog sal ek weer.
Ek wou vir nog ‘n wyle in die bos bly. My hart is nog altyd meer daar as by die see. Maar so stop ek op pad terug vinnig by ‘n vriendin wat iemand vir wie sy lief was verloor het. ‘n Vriend wat besluit het hy sien nie meer kans vir die lewe nie. Sy verstaan nie, ek ook nie. Ek vat hot chocolate en tissues. Sy sê sy weet sy besef nog nie mooi wat gebeur het nie, maar dit maak haar nederig. Sy wil vir almal vir wie sy lief is, dit sê. So sê sy dit vir my ook en my hart was terug in die bos. Ek wens HY kon betyds sien. Vóór die stad groter as die oop van die bos begin voel het.
Jy’s nie alleen nie. Jy’s nooit nie. Iewers gaan jy ook dalk blindelings in ‘n boom vasry, maar daar’s altyd mense wat vir jou lief is en wil help. En as jy hulle vir ‘n rukkie nie in die oë wil kyk nie, is daar sterre. En mense in kakie outfits wat jou laat lag op pad.