Daar is en gaan seker nog baie geskryf word oor die stemdag. Publieke vakansiedag of nasionale vakansiedag of sommer net gewone dag waarop almal hul kruisie moes gaan trek. ‘n Dag vol stories. Stories van intimidasie, stories van lank wag vir stembriewe, stories van nie bevoeg wees vir die taak van beampte wees nie. Ja en darem ook mooi stories. Mense wat lekker gesels met die vreemdelinge wat saam met hul wag. Ander mense wat dit as geleentheid gesien het om hul entrepeneurskap te beoefen deur worsbroodjies te maak en te verkoop aan die wagtende skares. Jongmense wat die oues van dae help om na die stemlokale te gaan of wat hul plek in die ry afstaan.
Ons bedryf ‘n 24 uur 7 dae ‘n week 365 dae van die jaar besigheid. Die vraag is, is dit ‘n publieke vakansieda? Want ja dit het ‘n groot implikasie ap die salarisse wat ons vir vandag gaan moet betaal. „Double pay” vir dieselfde hoeveelheid werk wat met dieselfde hoeveelheid energie gedoen word as op enige ander gewone werksdag. (My opinie: dit is wat ons besighede doodmaak. Betaal, betaal, betaal………) En wat is nou eintlik die verskil tussen nasionale en publieke vakansiedag?
Vanmiddag stop ek by ‘n verkeerslig. Ek is die tweede motor van voor. Die man (bedelaar) sit sy blikkie op die grond en kniel langs die motor voor my. Die bestuurder draai nie eens die venster af nie. Ek maak gou my beursie oop en haal ‘n paar munte uit want ek sien nie kans dat die man hier by my kom kniel nie. Voor hy nog kan kniel draai ek die venster af en gee vir hom die munte. Hy bedank my maar vra of ek nie dalk vir hom en sy vrou werk het nie. Hulle is baie honger en het nie geld vir kos nie. Hy wou ook vir sy kind ‘n kombersie by PEP gaan koop maar die kombersie kos R19 en waar moet hy dit kry. Hy weet nie meer nie maar Liewe Jesus sal hom seker help, se hy net toe dit my beurt is om te ry. By ‘n volgende verkeerslig staan ‘n jongman van seker so 24. Sy lyf is moedeloos van vra en soebat. In sy oe is daar nie meer hoop nie. My hart wil breek, nee, my is stukkend. Hoekom soveel armmoede en pyn? Ek het nie ‘n idee hoe dit moet wees nie. Sonder kos, sonder ‘n dak oor my kop, sonder ‘n kombers. Ek huil. Ek huil vir ‘n ma en ‘n pa wat niks meer het nie en vir ‘n jongman sonder hoop. Waarheen is ons land oppad? Diep binne my hart het ek hoop. Hoop dat ons nie dieselfde pad gaan stap as ons buurlande nie. God se: „Hoop beskaam nie.” Ek kies om daaraan te bly vashou. Ek wil ook hoop wees vir die wat moedeloos is maar die moedeloses raak net so baie.
Ek wonder waarheen is ons oppad……………