TWEE ORE EN EEN MOND

Die gesegde, ons het twee ore en een mond ontvang; gebruik dit in daardie verhouding, is redelik bekend. Maar dit word nie altyd gedoen nie. Maar hierdie paar woorde het my laat nadink. Ek deel dit graag met julle.

 

Op my ouderdom is ek dikwels die slagoffer van mense wat eerder die mond gebruik as om te luister. Dit gebeur al hoe meer dat mense my in die rede val terwyl ek aan ‘n gesprek deelneem. En as daardie persoon dan klaar sy woord gedoen het, dan weet ek nie meer waaroor ek gepraat het nie. En dan sit ek met ‘n mond vol tande. Mense is tog so lief om te praat. Daar is mense wat baie graag ook gehoor wil word. Hulle soek net ‘n oor om in te praat.

 

Maar, en dit het ek ontdek, dit geld nie net die mond en die ore nie. Ek dink dit gaan ook oor die mond en hande. Ons het twee hande ontvang. Daarom behoort ons twee maal meer met ons hande doen as wat ons praat. Dit is maklik om die mooiste woorde te spreek oor wat in die samelewing of in die huis gedoen moet word, maar dit bly dikwels net by praat. Of ons praat oor mense wat gehelp moet word en na wie uitgereik moet word, maar ons gebruik nie ons twee bene en voete om op te staan en na daardie persoon te loop nie. Dit geld ook ons oë. Die mooiste woorde word gepraat, maar ons gebruik nie ons oë om die nood rondom ons raak te sien nie. Hoe dikwels sluit ons eerder ons oë of ons kyk weg. Ons wil dit nie aanskou nie.

 

As daar een ding is wat ons opnuut weer moet ontdek, dan is dit dat ons mekaar nodig het. Ons is so gemaak dat ons op mekaar aangewese sal wees. Miskien is dit die rede dat

 

ons oë gekry het sodat ons mekaar kan raaksien; dat ons kan sien wanneer iemand ons nodig het.

 

ons ‘n tong gekry het sodat ons met mekaar kan praat, ja om vir hulp te kan roep as ons wegsink in moedeloosheid;

 

ons ore gekry het sodat ons die noodroep van ons medemens kan hoor as hy na ons roep;

 

voete en bene gekry het sodat ons na mekaar toe kan beweeg;

 

ons hande gekry het sodat ons ‘n helpende hand na mekaar kan uitsteek.

          

 

Możliwość komentowania jest wyłączona.